My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie – Spreuke 6:20 (2020-vertaling).
Hierdie opdrag loop soos ’n refrein dwarsdeur Spreuke: My seun, hou vas … My seun, luister …
Sonder dat ons altyd daarvan bewus is, hou ons kinders ons dop. Hulle sien wat ons doen en hoor wat ons sê. Dít word deel van hul verwysingsraamwerk. Daarom moet ouers dwarsdeur hul lewe bly soek na wysheid om hul kinders mee te bemagtig.
Toe ’n bejaarde man sterf, is sy vyfjarige kleinseun se enigste begeerte om sy oupa se hoed te kry. Lank ná sy oupa se dood het hy met die grys hoed op sy kop rondgeloop. Onwetend was die hoed die verpersoonliking van sy oupa: Eerbiedwaardig. Wys. Rustig. Altyd reg om saam met hom iewers heen te stap terwyl hy na sy kleinseuntjiestories luister.
Ek dink weer hieraan toe ek ’n haastige jong mamma dophou wat deur ’n winkelsentrum spoed. Sy stuur die trollie met een hand, terwyl sy met iemand op haar selfoon praat. Die kleinding probeer iets sê en trek vergeefs aan haar ma se mou om haar aandag te kry.
“Los daardie foon!” wil ek sê. “Kyk jou kleuter in die oë. Raak aan daardie ronde handjie. Hierdie nabytyd saam met jou kind is maar net ’n trollierit lank!”
Die tyd waarin ons insette in ons kinders se grootword kan gee, is kort. Ons moet daardie tyd gebruik om hulle met wysheid te bedien sodat hulle sal begeer om ons “hoed op te sit”.
Here, help my dat my kinders u wysheid in my sal raaksien. Amen.