“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly” (Johannes 15:9).
Daar is ʼn grappige storie oor ʼn boemelaar wat op ʼn dag, nadat hy weer sy gebruiklike aalmoes op straat gaan vra het, met die volgende vraag gekonfronteer is.
ʼn Lid van die een of ander evangeliese organisasie het só op sy versoek gereageer: “Ek sal jou help, maar sê my eers: Ken jy die Here?”
Waarop die boemelaar blitsvinnig, sonder ʼn oogknip of sweempie twyfel, geantwoord het: “Pe-sóónlik, Meneer!”
Sy vinnige antwoord mag wel ʼn glimlag ontlok. Tog plaas dit die ernstige vraag na die aard van ons geloof onder die soeklig. Hoe sien of beleef ons God? Want dit is moontlik dat ons geloof in God bloot ʼn gewoonte of sosiale konvensie is. Dat dit geen persoonlike betekenis vir ons het nie.
Die teoloog Flip Theron het op ʼn keer geskryf: “As jy op jou geloof vertrou, glo jy nog nie in God nie. As jy op jou bekering vertrou, is jy nog nie noodwendig tot Christus bekeer nie.”
Nee, geloof is inderdaad om ons tot Christus te keer en Hóm te begin volg. En dan soos Paulus te weet: Ek is in sy liefde, ja, in Hom gewortel en gegrondves (Efesiërs 3:16-18). Trouens, Christus self het gesê: “Ek noem julle vriende” (Johannes 15:15). En: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly” (15:9).
Meer intiem en persoonlik kan dit nie. En dit is die belydenis wat alle ware geloof kenmerk: “Pe-sóónlik, Meneer!”
O Here, soos Petrus, wil ek ook vandag uitroep: “U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Gee my tog meer van u liefde. Amen.
Carel Anthonissen