U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is – Psalm 16:11.
Gelowiges maak hulle dikwels aan die idee skuldig dat voorspoed ’n teken van seën is. Ons is mos op voorspoed geregtig. En ons kan slegs gelukkig wees as dit met ons goed gaan.
M Scott Peck se boek The road less travelled begin met die woorde: “Life is difficult.”
Die lewe is vol ontnugtering, hartseer en terugslae. Seën lê soms juis in die aanvaarding en saamleef met ons onvolmaakthede.
’n Groepie Christene het een Saterdagoggend Delft, ’n buurt vol sinkhuisies en plakkershutte op die Kaapse Vlakte, besoek om die inwoners te bemoedig, vir hulle te bid en kos en klere uit te deel. Maar soos dikwels gebeur, kom die eintlike preek dié oggend toe van ’n bosslaper wat kort tevore die dankbare bewoner van ’n sinkhuisie geword het.
Terwyl hy sy pap buite in die sonnetjie op ’n primusstofie sit en roer, mymer hy: “As jy nie tevrede kan wees met min nie, gaan jy ook nie tevrede kan wees met baie nie.”
Alain de Botton skryf in sy boek The architecture of happiness: “It is in dialogue with pain that many beautiful things acquire their value.” Dikwels laat juis ’n groot ramp of verlies ons besef watter dinge werklik saak maak.
Ons oë gaan skielik oop en ons kyk met nuwe helderte na die lewe. Ons besef dat pap op ’n primusstofie groter seën kan inhou as ’n blinknuwe kar. Daarmee omarm ons die dinge wat die lewe kosbaar maak: Eenvoud. Liefde. Saamwees.
Here, ek sê dankie vir die dinge wat regtig saak maak. Amen.