En, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis” – 1 Korintiërs 11:24.
Die één reis waarop ons almal is, die langste en bepalendste reis, is die reis van hart tot hart.
’n Vriendin sê: “Daar is baie maniere om die Groot Muur van China te beleef. Jy kan bloot ’n koffietafelboek oopslaan, of na ’n televisie-reisprogram kyk. Natuurlik kan jy dit ook fisiek besoek.”
Lewensreise verloop dikwels dieselfde. Maar eintlik gaan dit oor hoe toegespits ons op die medereisiger bly, die medemens langs ons op die rusbank, óf met ’n rugsak in wind en weer saam met ons teen die steiltes.
Ons kan nie ons lewensreis in isolasie aanpak nie. Dit is ’n reis saam met ander. Dit is ’n daaglikse reis, gevul met klein, gewone dinge. Die “hoflikheidjies” wat ’n mens nooit moet nalaat nie, daardie klein gebare van bedagsaamheid en toegeneentheid en warmte teenoor mekaar.
Soms wonder ek oor die gawe van omgee: van liefde gee en liefde ontvang. Waarom maak ons dit so moeilik? Waarom wil ons dit meet? Bereken? Kwantifiseer? Ons moet die tekens van omgee en opoffering spontaan neem, eet en drink – onbevange en eenvoudig – amper soos die heilige nagmaal.
Christus het, toe Hy geweet het Hy het slegs 12 uur oor om te leef, die reis na die hart van sy medemens voltooi. Hy het sy geliefde dissipels bymekaargeroep en hul voete gewas. Toe het Hy God gedank. Daarna het Hy oorgeleun en brood vir hulle gebreek.
Die reis na wysheid is ’n reis van hart tot hart.
Dankie, Here, vir hierdie reis van hart tot hart. Amen.