Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! – Psalm 8:2.
Soms staan ’n mens net in ademlose verwondering voor die grootsheid van die skepping. Jy word aangegryp deur ’n natuurverskynsel soos die noorderligte, of die wonder van ’n bruin akker wat op die grond val, ontkiem en ’n boom word wat sy skadu’s wyd oor die aarde sprei. Jy staan in verrukking by ’n reusewaterval, of kyk deur ’n teleskoop na die hemelruim vol sterrekonstellasies wat ligjare ver is. Jy ervaar ’n diep roering, ’n besef van jou nietigheid.
Maar die roering in iemand se hart loop nie altyd oor in aanbidding nie. Die skepsel erken nie die almagtige God agter elke wonderwerk nie.
Net so staan mense in verrukking oor die wonder van ’n nuutgebore baba. En tog erken hulle nie die God van die lewe nie. Hulle eer die grootsheid van die skepping, maar misken die Skepper daaragter. Eers wanneer ons verwondering oorgaan in aanbidding en lof aan die Skepper en ons ons eie onkunde teenoor sy alwysheid besef, maak ons ons arms oop om sy wysheid en insig te ontvang.
Op ’n besoek aan die Laeveld kyk ek hoe die vroegoggendmis stadig uit die plantasies opstyg. In die stilte word ek van God bewus. Sy heiligheid vul die klowe. Hy is in die fyn vlagies sproeireën. In die ligte bries deur die kiepersolblare. In die geur van veld en grond en lug. Ongemerk skuif iemand langs my in.
“Dit is God se plek dié,” sê hy.
Here-God, maak my oë oop om U in alles te kan sien. Amen.