Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God – Efesiërs 3:19.
Soms ervaar jy ’n onverwagse roering in jou binneste wanneer jy met skoonheid in aanraking kom. Iets in jou siel resoneer met dít wat jy sien, hoor, lees of beleef. ’n Sonsondergang. Die reëls uit ’n gedig. ’n Ou bekende teksvers wat skielik jubelend in jou opspring. Die orrelspel in ’n stil skemer kerk.
Onlangs ontmoet ek ’n besondere vrou. Ons gesels oor dinge wat ons lewe verryk en besef gou: Ons het dieselfde sielsgoed lief. In die middel van ons gesprek sê sy: “Ek kry nou skoon hoendervleis. En hoendervleis kom vanself. Jy bestel dit nie.”
Enersyds word ons geloof deur dissipline gevoed – die ritme, bekendheid en struktuur daarvan. En natuurlik ook die sekuriteit, troos en beskutting wat dit bied.
Ons moet egter ook ruimte skep om bloot in God se teenwoordigheid te sit. Sonder ’n agenda of verwagting. Sonder om te hoop op ’n hoendervleis-ervaring. Die dieper stilte en woordelose sit by Hom verinnig ons verhouding. En soms kom ’n onverwagse heilige oomblik verby – sonder dat ons daarvoor vra.
Die Gereformeerde teoloog Wilhelm Geesink beskryf hierdie sit by God as “inkering en insinking in die dieptes van die siel”.
God werk deur die verstaanbare, maar ook deur die misterie en die onverklaarbare. Ons eie vooroordele en rigiede stel geloofsreëls verhoed Hom om Homself aan ons te openbaar. Ons verarm onsself. Ons het niks om aan vas te klou nie. Nie eens ons eie geloof nie.
Ons wag op God se aanraking.
Here, ek stel myself oop vir u roeringe in my hart. Amen.