“’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” – Johannes 10:10.
Ek onthou ’n Kersvakansie toe my ouers ons eenkant geroep het: Ons moet nie geskenke verwag nie. Daar is bloot nie geld nie.
Tog skitter daardie kleintyd-Kersfees op ons familieplaas vandag nog aan my blink boom vol herinneringe. Ek onthou rooi en groen aanmaakkoeldrank met ronde ysies in groot glasbakke op die stoeptafel. Ons dogtertjies wat op kombuisstoele staan om soetkoekies te help uitrol. Die Agastoof wat pan ná pan goue koekies in die wit emaljeskottel uitspoeg totdat dit vol brosgeel sterre en hartjies in die kombuissonnetjie staan.
Hoekom was daardie Kersfees so spesiaal?
Was dit die intense beleef van kleure en reuke en indrukke? Sodat die rooi en groen helderder, die geur van kaneel skerper en die goeie van die dag ál beter word soos die Kersfeeste tussenin meer word?
Ja, dis dít. Maar daar is nog iets.
Die koeldrank en soetkoekies was nie ons kleinkinders s’n nie. Ons het dit vir die spannetjie plaaskinders uitgedeel wat skamerig nader gestaan het – die ingehoue afwagting in elke opkyk. Lank nadat die vrolike strepie kinders tussen die bloekoms verdwyn het, het die suiwer klanke van hul liedere nog in my kop weerklink waar ek kaalvoet op die koel plaasstoepmuurtjie gesit het.
Ek was te klein om my gevoel in woorde uit te druk. Vandag weet ek dat daardie dag die ware gees van Kersfees gedra het. Elkeen het iets van homself vir die ander gegee. En die gee was groter as die ontvang.
Here Jesus, U het Uself vir ons gegee, die grootste geskenk ooit. Amen.