Jong vriend, luister na ouer gelowiges met baie kennis van die lewe. Doen jou bes om die regte dinge te leer. Ek wil jou goeie raad vir die lewe gee, kennis wat jy nooit moet vergeet nie – Spreuke 4:1-2 (Die Boodskap).
Dikwels, wanneer ons in ons eie probleme verstrengel raak, kry ons dit nie reg om helder te dink of te sien wat die regte ding is om te doen nie. Ons voel so benoud en vasgekeer dat ons die eerste die beste opsie aangryp.
’n Jong vrou gesels met ’n vriend oor ’n kruispad in haar lewe. Sy vertel hom dat sy kleintyd gereeld pragtige sandkastele by die see gebou het. Soms het sy snags wakker gelê en gewonder of haar kasteel nog staan en of die branders dit intussen omgestoot het. Toe besluit sy om liewer elke keer haar kasteel self plat te trap voordat sy teruggaan huis toe. Dan hoef sy nie bang te wees iemand of iets anders doen dit nie.
“Ek doen dit nou nog. Ek vernietig ’n droom voordat iemand anders dit doen,” sluit sy af.
Haar vriend se antwoord is dat sandkastele baiekeer langer staan as wat ons dink. Ons hoef hulle nie plat te trap nie.
Uit vrees dat iemand ons in ’n verhouding gaan seermaak, of dat ons by die werk gaan misluk, vernietig ons soms ons eie droom eerder as om self vernietig te word.
Slaan ag op wyse raad. ’n Vriend se reguit woorde kan ons tot besinning bring; nie net vir die huidige situasie nie, maar ook vir die toekoms.
Here, help my om nie die wyse woorde van ’n vriend te versmaai nie. Amen.