Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het – Efesiërs 4:32.
Om vry en sonder skuld te kan lewe moet ons die pad van ware vergifnis stap.
’n Ma wie se seun gesterf het, vertel dat sy jare lank nie die persoon wat vir haar kind se dood verantwoordelik was, kon vergewe nie. Sy wóú nie. Die las van onvergewensgesindheid het ’n ál swaarder sandsak geword. Maar sy kón net nie.
Toe het sy God gevra om namens haar die skuldige te vergewe. Haar gebed was elke dag dieselfde: “Ek kan nie, Here. Vergewe U hom, asseblief.” Sy het geleidelik God se vergifnis vir die persoon begin erken. Dit was ’n lang proses. Maar die sandsak op haar skouers het ál ligter geword. Op ’n dag kon sy bid: “Here, help mý nou om hom te vergewe.” Dit was geen eenmalige “ek vergewe jou” nie, maar uiteindelik was haar vergifnis volkome.
Sy kon regop staan. Die swaar las van onvergewensgesindheid was nie meer op haar skouers nie. Dit het vir haar gevoel asof sy vlerke gekry het.
Philip Yancey skryf in Prayer: Does it make any difference?: “Dit is nodig dat ek vir ander bid, ook vir dié wat my veronreg en seermaak. Deur vir iemand in te tree by God, word ek deel van die stroom liefde wat God reeds oor daardie persoon wil uitstort. Hy leer my om met sy oë te kyk en vul my met deernis vir ander. Ek begin ander – en myself – sien soos God ons sien: gebroke mense met unieke foute, maar tegelyk unieke draers van sy beeld.”
Here, ek wil ander vergewe soos U my vergewe het. Amen.