Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer. Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie – Prediker 1:5-6, 9.
In Prediker 1 gaan dit oor seisoene wat kom en gaan. Die natuur gaan sy gang. Onafwendbaar. Niemand kan dit keer nie. Net so, sê die prediker, kan ons niks aan die gang van die lewe doen nie.
Dié woorde is neerdrukkend. Dit kan ons maklik pessimisties stem. Ons kan tereg vra: Wat help al ons geswoeg op aarde dan?
’n Dwaas probeer aan een lewenseisoen vasklou. Hy probeer ewig jonk bly en weerstaan die onafwendbaarheid van die ouderdom. Daardeur verarm hy homself.
Deur “ja” te sê vir ’n nuwe lewenseisoen verryk ons onsself en gaan ons oë oop vir die seëninge wat saam met die nuwe fase kom. Om die gang van lewenseisoene te aanvaar verg oorgawe en lewensmoed. Aanvaarding bring egter ook wysheid. En saam daarmee vreugde en voldoening en dankbaarheid.
God het seisoene in ons lewe vasgestel. Ons is dikwels stram om ’n seisoen te verwelkom. Ons moet God vir elke nuwe tydperk vertrou. Ons moet Hom dien en die lewe as gawe uit sy hand geniet.
Dít is Prediker se boodskap vir ons.
Here, dankie dat die lewe nie tot niks kom vir hulle wat U dien en liefhet nie. Dankie dat U aan alles sin gee. Amen.