Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie. Sela – Psalm 21:3.
Die woordjie “sela” kom 71 keer in die psalms voor. Die algemene mening is dat dit na ’n musikale pouse verwys. In ons gejaagde lewe kan ons dit gerus ter harte neem en sê: “Ek mag maar sela.”
In die middel van ’n groot toetsreeks kry ek een van my hoërskoolmanne een middag in sy kamer. Hy lê rustig op sy bed – hande agter die kop.
“En nou?” kan ek nie help om te vra nie.
“Ek is ernstig besig met niksdoen, Ma,” kom dit ongestoord.
“Wat van môre se toets?”
“My kop kan niks meer vat nie. Selfs my kantlyne is vol geskryf.”
Daarmee het hy, ’n blote skoolkind, die siekte van ons tyd raakgevat. Ons dae is tot oorlopens toe vol. Selfs ons kantlyne is vol geskryf. Ons moet weer tyd inruim vir ernstig niksdoen – op ons eie, maar ook as gesinne en families.
’n Vrystaatse niggie vertel van haar grootwordjare op hul plaas. Sondag-laatmiddag het die gesin vir oulaas op die stoep vertoef, die teetrollie met toebroodjies tussen hulle. Die son het in al sy oranje glorie agter die doringbome weggesak. Die vrede en die ver rante se koel stilte het ongemerk tussen hulle ingesypel. Gesels en stilte het moeiteloos ineengevloei.
Ons het Sabbatsvrede en -stilte nodig. Ons het die ritme van rus en nadink nodig. Ons het die ordening nodig van dinge wat ons dae in beslag neem. Ons het tyd nodig om perspektief te kry. Gesinne moet weer saam sit. Sonder ’n agenda.
Here, help my om te kan sela. Amen.