Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak – Handelinge 16:23-26.
Paulus en Silas sit in die tronk, in die donkerste neerdrukkendste omstandighede wat ’n mens kan bedink. Hulle sit op die koue klipvloer in die binneste kerker met ’n houtblok aan hul voete. Tog is hul gees vry.
Die tronkbewaarder kyk teen die tronkmure vas. Wanneer die gevangenes se boeie tydens die aardbewing losraak, wil hy sy eie lewe neem. Hy is vasgekerker in sy gees. Vir hom is vryheid om buite te kan rondloop, met geen kettings en toe seldeure nie.
Eers toe hy besef dat nie een van die gevangenes ontsnap het nie, begin hy verstaan wat ware vryheid is. Ons lees in Handelinge 16:30-31 van sy inkeer. “Hy val bewend voor Paulus en Silas neer en vra: ‘Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.’”
Niks kan ons die vryheid ontneem wat ons in Christus het nie.
Here, dankie dat ek vry kan wees en kan lewe! Amen.