Boodskap vir Vandag

Search

Sit aan by my tafel

Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou teruggee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet” – 2 Samuel 9:7.

Dawid het nooit sy vriend Jonatan vergeet nie. Ook nie dat hy sy lewe gered het nie. Nadat Dawid sy koningskap gevestig het en daar vrede in die land gekom het, het hy navraag oor Saul se nageslag begin doen. Ter wille van Jonatan het hy Mefiboset, Jonatan se kreupel seun, onder sy sorg geneem.

Dit was ’n gebaar van medemenslikheid maar ook van versoening waarmee hy gewys het dat hy geen wrok teenoor Saul koester nie. Mefiboset groet Dawid met die woorde: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan ’n dooie hond soos ek?” Dit is die taal van ’n verstoteling wat homself nie menswaardig ag nie.

Deur een mens se goedgesindheid het iemand sonder selfrespek ’n nuwe toekoms gekry. Dawid het Mefiboset soos ’n eie kind by hom in die paleis laat woon en hom aan sy tafel laat eet.

Wanneer ’n koning in Ou-Testamentiese tye iemand by hom aan tafel laat aansit het, was die begunstigde nie slegs van die keurigste kos in die land verseker nie, maar ook van die koning se beskerming. Een gebaar van vriendelikheid en medemenslikheid kan iemand se menswaardigheid herstel. ’n Hand van ontferming op ’n geboë skouer kan lewensveranderend wees.

Here, help my om op die uitkyk te wees vir iemand wat ek kan ophelp en weer in hom- of haarself laat glo. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed