Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys – Handelinge 2:46-47a.
“Ons sit, Ouma,” sê die dogtertjie op die bank beslis toe haar ouma wil opstaan om die kombuis te gaan help opruim waar kostrommels, kampstoele en vuil wasgoed die vloer vol staan.
Die gesin is pas terug van ’n seevakansie en die jong mamma van drie kleuters sou kon doen met ’n flink, ekstra hand. Maar Ouma het bly sit. Rustig. Sodat die kleinkind ongestoord alles kon vertel wat haar twee jaar oue hart vol lê.
Ons moet onsself inoefen in die kuns om bymekaar te kan vertoef. Ons moet leer wanneer om doelbewus horlosietyd en dringende móét-doen-dinge eenkant te skuif.
Die eerste gemeente van wie in Handelinge vertel word, het hierdie beginsel uitgeleef. Buitestanders het hulle dopgehou. Hulle het die onderlinge samehorigheid, asook Christus se vrede en vreugde in hul saamwees gesien. Hulle wou dit ook ervaar.
Henri Nouwen skryf in sy boek With open hands: “Dit is nie moeilik om mense te mobiliseer of om doelgerig aan ’n spesifieke projek te werk nie. Maar ek wonder al hoe meer of die belangrikste ding nie is om mense by die naam te ken nie; om saam met hulle te eet en te drink en na hul stories te luister – en dan jou eie te vertel om hulle deur jou woorde, ’n handdruk en ’n omhelsing daarvan te verseker dat jy nie bloot van hulle hou nie, maar hulle werklik liefhet.”
Here, help ons om sonder haas by mekaar te vertoef. Amen.