As julle maar liewer net wou stilbly, sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word – Job 13:5.
Die Bybel beklemtoon herhaaldelik die krag van min woorde – selfs geen woorde. Stilbly is dikwels wysheid in aksie. Selfs wanneer ons treurendes troos, moet ons eerder swyg as raad wil gee.
In haar boek Fugitive pieces skryf Anne Michaels: “Questions without answers must be asked very slowly.”
Ons moet versigtig omgaan met die dinge wat ons nie verstaan nie. Treurendes én troosters moet besef daar is nie antwoorde vir onnoembare leed en swaarkry nie.
Job se vriende het hom met vrae en antwoorde bestook. Daardeur het hulle hul eie dwaasheid en onbegrip ten toon gestel.
Mense wat ander troos, reken dikwels dat hulle antwoorde moet verskaf. Om deur verlies te werk is egter ’n proses en kan nie met ’n enkele teksvers of stukkie goedbedoelde raad afgehandel word nie. Opregte meelewing behels dat jy tyd opsy sit en sonder voorbehoud jou vriend of familielid ondersteun. Skuif jou eie gevoelens en ervarings vir daardie uur of wat opsy en luister net, sonder om te vertel van ander wat swaarder gekry het en desnieteenstaande “sterk” gebly het, of om uit jou eie ervaring raad te wil gee.
Ons hoef nie altyd stiltes met woorde vol te maak nie. Soms is al wat ’n treurende nodig het, die opregte oorbuig en luister van iemand wat ’n klein stukkie pad wil saamloop.
Here, help my om te onthou dat daar troos in stilte is. Amen.