“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” – Matteus 6:21.
In die kinderverhaal Kom ons soek ’n skat besluit twee vriende om die grootste skat op aarde te soek. Hulle raak uitgeput en honger, maar bly positief. Wanneer die een moeg is, dra die ander een hom op sy rug – en andersom.
Op ’n dag ontdek hulle ’n boom vol goue appels. Hulle verkoop die appels in die stad en vertrek met vrolike harte. Die geld is lig; dus word hulle nie so moeg nie. Gou begin hulle egter stry oor hoeveel geld elkeen moet kry. ’n Sysie wat hulle uit ’n boom dophou, sê: “O, julle ellendige domkoppe. Daar baklei julle elkeen met jul allerbeste vriend, en dit oor geld.”
Die boodskap is oeroud en oorbekend, maar bly kragtig. Belê in dinge wat geld nie kan koop nie.
In Jesaja 55:1 nooi die profeet: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet.”
Ons besef nie altyd wat ons eintlike honger is nie. Ons soek opreg na dinge wat ons reken ons behoeftes kan vervul: ’n werk wat finansiële voordele bied, die beste skool vir ons kinders, ’n gerieflike aftreeplekkie.
Geeneen van hierdie dinge is verkeerd nie. Solank ons die pad saam met God stap. Hy is ons Vriend op wie se rug ons mag klim. Hy word nie moeg nie. Hy verloor ook nie koers nie. Hy bring ons by die werklike skat uit. Op die koop toe skenk Hy ons die begeertes van ons hart – indien dit volgens sy wil is.
Here, ek soek die kosbaarste skat. Amen.