“Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God” – Rut 1:16.
“Ek is nie my skoondogters se ma nie. Ek is hul ouer vriendin. Ons respekteer mekaar. Ons leer by mekaar. Soos ons mekaar beter leer ken, raak ons lewe ál meer verweef. Kleinkinders wat bykom, raak ’n gemene deler. Ons beleef geboortes, eerste treetjies, eerste skooldae. Ons word saamgesnoer deur hartseer en vreugde wat ons pad kruis.” Aan die woord is ’n wyse middeljarige vrou.
Soos in enige ander verhouding moet skoonma’s en skoondogters tyd maak om nader aan mekaar te groei. Hulle moet ruimte vir foute toelaat, verskoning vra en vergewe. Hulle moet steeds die mooiste in mekaar bly verwag. Hulle moet na mekaar omsien, soos vriendinne sal doen.
Namate die tyd verbygaan, verskuif die rolle. Die skoondogter wat vroeër vir raad na haar skoonma opgesien het, word nou háár raadgewer. Die ouer vrou raak afhanklik van haar vir praktiese dingetjies en begin op haar steun wanneer sy oor dinge twyfel wat eers so vanselfsprekend was.
Daarom moet ’n mens dwarsdeur jou lewe jou verhouding met jou skoondogter koester. Sy is die vrou van jou seun wat jy liefhet en vir wie jy die beste verlang.
Ongelukkig lyk alle verhoudings tussen skoonma’s en skoondogters nie so nie. Ons lewe in ’n gebroke wêreld. Daarom is verhoudings dikwels ook stukkend. Al wat ons kan doen, is om te bid dat Christus ons met sy liefde sal oorlaai.
Here, seën hierdie spesiale verhouding tussen skoonma’s en skoondogters. Amen.