Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is (Jesaja 55:2).
Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ (Matteus 22:4).
Jesaja 55 – wat ons teks vir hierdie week is – moes vir die volk soos vreemde, maar tog aangename, musiek in die ore geklink het.
Want behalwe vir die belofte van bevryding of verlossing uit ‘n neerdrukkende ballingskap, bevat dit ook die belofte van seën. Dit is die belofte van oorvloed en ongewone luukse. Dit is asof die profeet wil sê: “Julle het gedink God vergeet sy beloftes. Nee, God vervul dit nóg groter en ruimer as wat julle verwag het. God gee nie net lewe nie, God gee ook die goeie, joviale en oorvloedige lewe!”
Die beelde van drank en kos wat hier op die voorgrond is (Jes 55:1-2), wil hierdie gedagte tuisbring.
Wat ‘n aangrypende en troosvolle gedagte is dit nie! Om te hoor dat die God wat ons aanbid ‘n vrygewige God van onbeperkte oorvloed is. Dat wanneer hierdie God begin uitdeel, dit nie inhalig en met ‘n geslote hand is nie, maar ruimhartig met oop, versorgende arms.
Is dit nie wat Jesus se gelykenis oor die bruilof (Matt 22:1-14) ook wil verkondig nie? Dat die lewe met God altyd iets vreugdevols en feesteliks is?
En nou roep Jesaja ons, amper soos ‘n straatverkoper van ouds, om met ons honger en ons dors te kom. Om sáám wyn en brood te kom geniet. Om te eet van wat goed is en versadig te word, met net die beste uit God se hand. En dit alles verniet, gratis, vry.
Want sien, só werk God se genade.
O Heer u goedheid gaan ons verstand te bowe. Hou ons in verwondering daaroor en help ons om met dankbaarheid daaruit te leef. Amen
Carel Anthonissen