Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens – Spreuke 16:24.
Heuning besit groot genesingskrag. Dit help onder meer wonde en brandwonde genees, want dit bevat baie antibakteriese en antiseptiese bestanddele. Dit beveg ook lugweginfeksies omdat dit anti-inflammatories is. Boonop is heuning ryk aan antioksidante; dus verlig dit spysverteringsprobleme en versterk die immuunstelsel. Heuning is reeds in antieke Egipte en Mesopotamië gebruik om wonde te behandel.
Die Bybel besing ook heuning se genesingskrag. In 1 Samuel 14:27 lees ons: “Hy [Jonatan] het die punt van sy kierie in ’n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. Dit het hom nuwe krag gegee.” Die 1933/1953-vertaling stel die laaste gedeelte van die sin só: “en sy oë het helder geword.”
Ons ken die krag van salwende woorde. Woorde wat “soet vir die siel” en helend vir die persoon is wat dit aanhoor. Kalm woorde kan woede ontlont. Rustige woorde laat angs bedaar. Woorde vol deernis gee ’n gebrokene hoop.
In die 1933/1953-vertaling lui Spreuke 16:24 só: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.”
’n Wyse mens kies sy woorde versigtig. Sy woorde is eerlik, maar nie afbrekend nie. Dit is sonder venyn of bybedoelings. Wyse woorde is keurig, gepas, onbevooroordeeld, goedbedoel, minsaam en tydig. En veral weldeurdag. Wanneer sulke woorde opklink, seën en troos en genees dit.
In Efesiërs 1:3 lees ons: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Uit hierdie volheid kan ons woorde aangee waarmee ons ander seën en versterk.
Here, help my en maak my woorde vir ander tot seën. Amen.