Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg (Filippense 4:18).
Dit is tog interessant om te sien waaroor Israel alles in die woestyn gekla het.
Behalwe vir Moses en Aäron se leierskap, was dit veral die gebrek aan lekker kos.
Hoor net hoe neul hulle: “Hier is nie brood en water nie. En ons is sat vir hierdie slegte kos” (Num 21:5).
‘n Rukkie vroeër spel hulle dit nog meer pertinent uit: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!” (Num 11:4-6).
Miskien moet ons Israel nie te hard oordeel nie. Gegee ons gerief en baie voorregte, ja, die smaaklike bord kos wat elke dag aan ons voorgesit word, sou ons ook maar soos Israel gewurg het aan die manna – manna wat gelyk het soos balsemgom (Num 11:7).
Die geheim is om altyd dankbaar en vergenoegd te bly, selfs wanneer ons sleg eet, swaarkry en sekere dinge moet ontbeer. Presies soos die man wat min gehad het, maar van wie almal gesê het: “Hy leef gedurig soos iemand wat pas die boerpot gewen het.”
Praat nou van ‘n voorbeeld van egte dankbaarheid!
O Here, help ons vandag weer om U vir alles te loof en te dank. Selfs al het ons min. Amen
Carel Anthonissen