Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan! – 1 Tessalonisense 5:11 (Die Boodskap).
Die televisiereeks Navillera, wat “soos ’n skoenlapper” beteken, vertel die verhaal van ’n talentvolle, jong balletdanser wat deur sy persoonlike probleme gekortwiek word, onder andere sy pa, ’n sokkerafrigter, wat hom as seun verwerp omdat hy ballet bo sokker gekies het.
Wanneer ’n 70-jarige man by die balletskool verbystap, herleef sy lewenslange balletdroom. Hy nader die hoof van die akademie en laasgenoemde sien dit as ’n gulde geleentheid om die jong balletdanser ’n nuwe doel in die lewe te gee. Hy stel die jongeling as die bejaarde se balletafrigter aan. In ruil word die bejaarde die balletdanser se bestuurder wat moet toesien dat hy betyds vir sy oefensessies opdaag en ’n gesonde lewenstyl handhaaf.
Só ontvou ’n lieflike verhaal van wedersydse sorg. Die jong man ontwikkel ’n deernis en gevoel van beskerming teenoor die bejaarde, veral wanneer dit later blyk dat hy aan Alzheimersiekte ly. Die 70-jarige deel sy lewenswysheid met die jongeling.
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor mense in die gemeenskap wat vir hulp en wysheid na ons opsien, maar veral teenoor dié wat God aan ons toevertrou het.
Ons kinders is nie slegs van kos en klere en onderdak van ons afhanklik nie. Hulle is verbondskinders. Christus se liefde is ons grootste nalatenskap aan hulle. Hulle moet sy beeld in ons kan sien. Dan kan ons hulle met ’n geruste hart aan God se sorg toevertrou.
Here, help my dat ek nie die skoenlappers onder my sorg se vlerke knip nie. Amen.