Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop” – Markus 1:7-8.
Die woestyn was meermale in Bybelse tye die plek waar profete en gestuurdes God ontmoet en hul roeping ontvang het.
Johannes die Doper het in die woestyn gebly waar hy sprinkane geëet en klere van kameelhare gedra het. Vir hom was die woestyn ’n voorbereidingsplek vir sy taak as voorloper en boodskapper van Christus. God se taak vir Johannes was om op die agtergrond te wees. Hy sou nie eer ontvang nie.
Dit was vir hom voldoende om in Jesus se skaduwee te beweeg. Op hierdie manier kon al die lig op Jesus val.
In Johannes 1:23 sê hy die volgende van homself: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.”
Om Christus te dien en aan ander as die Messias voor te stel vra dat ons Hom sal ken; nie net in naam nie, maar as persoonlike Verlosser. Ons moet – soos Johannes die Doper – wéét wie hierdie Jesus is wat ons volg. Ons getuienis mag nie slegs lippetaal wees nie.
Ons moet met sy woord en sy waarheid en sy wysheid gevul wees. Maar ons moet in nederigheid ons taak verrig, geklee in kameelhaar met ’n leerband om ons heupe en sandale aan ons voete.
Here, ek wil u nederige boodskapper wees. Amen.