Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees; ’n mens met insig bly kalm – Spreuke 17:27.
Agnés de Lestrade se kinderboek Die land van die groot woordfabriek vertel die bekoorlike verhaal van ’n land waar woorde bitter skaars en baie kosbaar is. Dit is heeltemal te duur om te koop. Daarom vang kinders die woorde wat verbykom in skoenlappernette.
Eendag gaan Daniel na die dogtertjie wat hy met sy hele seuntjiehart liefhet. Al woorde wat hy het om vir haar as verjaarsdaggeskenk te gee, is “kersie”, “stof” en “stoel”. En dan haal hy sy heel kosbaarste woord uit: “nog”.
Dit is vir haar genoeg.
Dit is beter om stil te bly wanneer jy nie iets het om te sê wat die moeite werd is nie. Terwyl jy stilbly, kan jy luister en dink en leer. Ons moet ons kinders deur ons eie voorbeeld leer hóé kragtig stilte is sodat hulle, wanneer hulle praat, iets het wat die moeite werd is om te sê.
In Forrest Carter se boek The education of Little Tree leer die oupa sy kleinseun: “As daar minder woorde was, sou daar nie soveel moeilikheid in die wêreld gewees het nie.”
Paulus praat weer van ons woorde wat met sout besprinkel moet wees. Spaarsamig. Net genoeg. Smaakvol.
Die spreukedigter wys ons kort-kort op die waarde van woorde wat met oorleg gekies is, soos in Spreuke 17:27: “Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees; ’n mens met insig bly kalm.” En in Spreuke 15:2: “Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks; dwase mense sê net dwase dinge.
Here, bewaar my van te veel – en onnodige – woorde. Laat my woorde met sout besprinkel wees. Amen.