Niks wat sleg is, wil ek nastreef nie. Ek haat wat verkeerd is. Dit mag geen houvas op my hê nie – Psalm 101:3.
Warren Buffett, die bekende Amerikaanse sakemagnaat, is ook bekend as filantroop wat 99% van sy fortuin aan liefdadigheidsinstansies skenk. Buffett is ’n mentor vir talle jongmense wat nog hul pad deur die lewe probeer vind.
Hy sê: “Kyk na drie dinge wanneer jy iemand in diens neem: intelligensie, dryfkrag en integriteit. Indien iemand nie die laaste een besit nie, hoef jy nie eens te kyk na die ander twee nie.”
Integriteit verg moed. So ’n persoon kies eerlikheid eerder as bedrog. Regverdigheid bo onregverdigheid. Al ignoreer almal die eerbare oplossing, hou die regverdige by dít wat reg is. Sy waardes is God-gedrewe. Die Woord is die standaard waarvolgens hy lewe.
Mense weet altyd waar hulle staan in die geselskap of werkomgewing waar iemand met integriteit besluite neem. Hulle voel veilig, want etiese en morele kodes is die maatstawwe vir besluite.
Integriteit ken geen middeweg nie. Dit staan onwrikbaar vas.
Tog moet elkeen gereeld sy besluite herevalueer. Hy moet by God sit en elke besluit aan die Bybel toets. In Psalm 26:2-3 roep Dawid uit: “Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou.” Sodra ons huiwerig is om dit van God te vra, is dit ’n teken dat ons ’n kompromis met die sonde probeer aangaan.
Integriteit wankel nie. Dit staan onwrikbaar vas en regop.
Here, ek wil opreg en eerlik lewe. Ek wil U – en my naaste – altyd in die oë kan kyk. A