Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen – 1 Tessalonisense 5:11.
Ons moet lewenslank die grense na mekaar probeer oorsteek en aanhou leer by mekaar. Ons mag nie wag vir ons ouers se oudag voordat ons eers hul diepste menswees en behoeftes leer ken nie.
Ann Voskamp vertel dat haar dogtertjie eendag, terwyl sy foto’s neem, gevra het of sy vir haar sal wys hoe om met die kamera te werk. Sy wil ook die knoppie druk.
Agterna het Voskamp met verwondering na die foto’s gekyk wat haar kind van doodgewone dinge geneem het. ’n Deurknop. ’n Trappie. Haar bed. Sy het besef dat daar ’n verskuiwing gekom het. Sy het iets van haarself aan haar dogtertjie gegee. En sy het iets ontvang. Hulle het mekaar se binnewêrelde oorgesteek.
Ons moet toelaat dat ons kinders ’n kykie in ons lewe kry. Dit is bevrydend om ouers as mense te leer ken en te besef: Ek en Ma (of Pa) is meer eenders as wat ons dink.
Daar is egter grense. Kinders hoef nie die detail van hul ouers se finansiële probleme of persoonlike worstelinge te ken nie. Ons mag hulle nie belas deur op hul raad en leiding te steun nie. Hulle moet nog onbevange kind kan wees wat kan blý droom.
Ons moet lewenslank na mekaar bly uitreik. Soms selfs net deur doodgewoon vir mekaar goed te wees en te aanvaar dat die ander se bedoelings vir my goed is.
Ons moet ons kind genoeg vertrou om die kamera vir haar te kan aangee.
Here, dankie dat ons u huisgesin mag wees en dat ons na mekaar moet omsien. Amen.