Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom – Psalm 90:12.
Ek en my jongste sit op ’n skoolpawiljoen en atletiek kyk. ’n Onverwagse somerhaelbui – aangehelp deur ’n geniepsige koue windvlaag – druk ons terug tot op die heel boonste ry sitplekke. Sambrele tol in die wind, en beamptes en atlete skarrel vir skuiling.
“Wie dink hierdie goed vir kinders uit, Ma?” vra my kleuter. “Grootmense,” bieg ek.
“Eintlik wil kinders maar net speel,” sê hy, suigstokkie bolrond in sy kies.
Hoekom moet ons ten alle koste weet wie vanjaar die vinnigste hardloop? Of die hoogste spring? Of ’n gewig die verste stoot? Dalk wil die klein naelloper eerder met sy hond op die gras speel. Of uitgelate saam met sy maats fietsry. Of met ’n boek in sy kamer wegkruip. ’n Rugbyspeler-pa se kind wil dalk skaak speel. ’n Pianis se dogtertjie wil swem.
Hoekom dwing ons kinders om dramaklasse of gimnastiek te neem? Wil ons dit wat óns as kinders begeer het om te doen, maar nie kon regkry nie, in húlle sien waar word? Of wil ons ons eie kindertyd in hulle laat herleef?
Dit is nou ons kinders se beurt. Ons moet hulle help om hul eie keuses te maak – en uit te leef. Dán kan ons hulle aanmoedig en daar wees vir hulle: Op die pawiljoen. Langs die netbalveld. Op harde skoolsaalstoele. In die motor op pad na ’n eisteddfod of hokkiewedstryd.
Kleintyd is maar net ’n suigstokkie lank. En die lewe is ’n vlietende gedagte.
Here, help my om my tyd so te gebruik dat ek wysheid bekom. Amen.