Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? (Jesaja 58:7).
Die feesmaal of tafel is nie net die plek waar ons gevoed word nie; dit is ook die plek waar barmhartigheid begin.
In die formulier vir die bevestiging van diakens staan daar dat die diakens se diens by die nagmaal begin en van daar af word God se barmhartigheid na alle terreine van die samelewing uitgedra. Die goeie nuus van die evangelie was tog nog altyd nie net Jesus as die brood wat lewe gee nie, maar ook brood self.
In Jesaja 58:7 beskryf God die vas wat Hy wil hê as om vir dié wat honger is van ons brood te gee; om aan armes en dakloses ’n blyplek te gee; om vir iemand sonder klere van ons klere te gee; om nie ons medemens aan hulle lot oor te laat nie. Die NRSV vertaal dit soos volg: “and not to hide yourself from your own kin”.
Barmhartigheid het tog te make met ons warm harte; ons keuse om nie van ander se nood weg te kruip nie.
Here, help my om ʼn warm hart en oop hande te hê sodat ek u goedheid aan my aan ander sal gaan uitdeel. Amen.
Lisel Joubert