Dra mekaar se laste, en gee so uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2).
Hoe verfrissend is dit nie om mense te ontmoet wat nie die slawe van reëls en regulasies is nie, maar hulle veral ook deur menslike oorwegings laat lei, deur gesigte, vriendskappe en vertroue.
Destyds, tydens ‘n studietydperk in Duitsland, moes ek langer bly, maar het hiervoor meer geld benodig. Die Duitsers kon help, maar daar was ‘n probleem. Vanweë die NG Kerk, waarvan ek ‘n leraar was, se destydse ondersteuning van apartheid was daar ‘n staande besluit dat hulle geen NG-lidmaat of -leraar geldelik sou ondersteun nie.
In my besit was egter ‘n getuigskrif van iemand wat groot agting by die Duitsers geniet het. Boonop het ek enkele jare vroeër een van die besluitnemers goed leer ken.
Dit was dan ook hý wat my die dag vóór Kersfees in 1990 met dié blye nuus gebel het: “Ons gaan ‘n uitsondering maak. Ons gaan jou help. Want ons ken jou. Ons vertrou jou.”
Hierdie grootmoedige gebaar wat ter wille van menslikheid die letter van die wet vir ‘n oomblik eenkant toe geskuif het, het my destyds diep geraak en tot groot dankbaarheid en nadenke gestem.
Want is dit nie dié soort oorwegings wat Jesus se optrede deurgaans bepaal het nie? Is dit nie die wet van Christus waarna Paulus in Galasiërs verwys nie?
En is dit nie ook wat van ons gevra word nie: Om buigsaam te wees, oop vir die nood en situasie van elke mens? En nie soos die Fariseërs van destyds, slawe van onbuigsame en koue reëls nie?
O Here, leer ons vandag weer om volgens u wet, wat die wet van die liefde is, te leef. Amen
Carel Anthonissen