Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg – Markus 1:10-13.
’n Mens beleef heilige oomblikke by die lees van hierdie gedeelte. Jy word met ontsag en diep deernis vervul wanneer jy God se stem uit die hemel hoor: “Jy is my geliefde Seun.” Dan sy goddelike vreugde oor sy Kind: “Oor Jou verheug Ek My.” En net daarna die verwysing na die Gees wat Jesus weggevat het – die woestyn in.
Jesus het Hom ten volle aan sy Vader se wil en opdrag oorgegee. Hy eet niks gedurende sy 40 dae in die woestyn nie. Boonop word Hy deur Satan versoek, alles met die Vader se medewete. Nadat Jesus Satan se versoeking weerstaan het, lees ons: “… en die engele het Hom versorg.” God se ware vaderhart weerklink in dié gedeelte.
Jesus is voorberei vir sy taak op aarde. Vir Hom was die woestyn nie net ’n fisieke ruimte nie. Dit was ook ’n plek waar Hy in afsondering sy Vader se stem kon hoor. God het sy Seun in die woestyn voorberei. Terselfdertyd het hy Hom versorg.
Geen opdrag kom sonder God se sorg nie.
Here, dankie dat U ons nooit stuur sonder dat U ons toerus en versorg nie. Amen.