Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het (Lukas 7:37-38).
Ek het ‘n skoonsuster wat in Nepal was tydens die dramatiese aardbewing wat duisende lewens geëis en die land maande lank reeds lamlê.
Dit was nie ‘n aangename ervaring nie.
Spesifiek die rit na Katmandu kort ná die ramp met honderde vure waarop lyke verbrand is oral om haar, het diep en onuitwisbare indrukke gelaat.
En tog was alles nie net sleg en nodeloos nie.
Behalwe dat sy opnuut die broosheid van ons lewe op aarde besef het, het sy ook geleer wat dit beteken om trane van dankbaarheid te stort.
Óm haar – só het sy waargeneem – was daar heeltyd ‘n vloed van trane: trane van onnoemlike verdriet, hartseer, pyn en ook selfverwyt.
Háár trane was egter anders. Weliswaar gebore uit skok en hartseer, maar terselfdertyd ook gevul met ’n gevoel van diepe dankbaarheid omrede sy ontkom het.
Gelukkig inderdaad is hulle wat sulke trane van dankbaarheid kan stort. Net soos daardie vrou wat Jesus se voete gesalf het (Luk 7:36-50).
Here, ons dink vandag aan almal wat ly, wat elke dag trane van pyn en verdriet stort. En ons dank U vir sovele gawes en voorregte wat ons, te midde van soveel ellende, steeds met trane van dankbaarheid vul. Amen
Carel Anthonissen

