“By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig” – Job 12:13.
Janosch se bekoorlike kinderverhaal Ai, hoe mooi is dit in Panama begin só: “Eenmaal was daar ’n beertjie en ’n tiertjie. Hulle het onder by die rivier gewoon, daar waar die rook uittrek, langs die groot boom. En hulle het ’n bootjie gehad …”
Die beertjie en tiertjie was gelukkig. Hulle het niks kortgekom nie. Op ’n dag sien Beertjie egter ’n kis wat in die rivier afdryf. Dit ruik na piesangs, en op die kis staan geskryf: Panama.
Die twee vriende begin droom van Panama, die land van piesangs en ander wonderlike dinge, en hulle begin stap om dié land te soek. Ná baie ontberings kom hulle ’n kraai teë en beskryf die land van hul drome aan hom. Hy laat hulle tot in die hoogste mik van ’n boom klim. Daar ver onder kronkel die riviertjie wat hulle so goed ken en onder ’n groot ou boom staan hul gesellige huisie. Hulle het by Panama uitgekom.
In ons soeke na wysheid kyk ons dikwels die alledaagse mis. Ons soek na iets groots en verhewe. Ons verwar wysheid met iets wat jy nét deur buitengewone ervarings kan verwerf.
Ons maak soms die fout om te dink dat ons slegs ’n openbaring gaan kry wanneer ons ’n spesiale kursus bywoon of na ’n inspirerende prediker gaan luister. Ons verwag dikwels nie om wysheid in ons huise, ons gemeente of ’n doodgewone ervaring te vind nie.
Ons vergeet: By God is wysheid en krag. En Hy woon by ons. Panama is op ons voorstoep.
Here, dankie dat u wysheid oral beskikbaar is. Amen.