Boodskap vir Vandag

Search

Uit by die hek

My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ’n volle lewe vir hom wat dit besit – Spreuke 4:20-22.

Toe my seuns hul vlerke begin sprei, het ek op ’n dag gaan sit en ’n brief vir hulle geskryf: Dinge wat jy moet onthou wanneer ander mense by ons hek inry, of wanneer jy by ons hek uitry.

Daar was goeie raad in die brief – het ek gedink – mooi gerangskik onder hofies. Dit was belangrike dinge wat ek vir my kinders wou saamgee: “Kyk mense in die oë wanneer jy hulle groet. Luister eerder as om te praat. Vat die skinkbord by die gasvrou. Skryf daardie bedankingsbriefie. Pas mekaar op.”

Al die raad het op die ou end op één beginsel neergekom: Leef bedagsaam en erkentlik. Hê ander so lief soos jouself.

Dan was daar ook daardie rigtingwysers wat, in Salomo se woorde, vir hulle ’n metgesel moet wees. Dit klink na ’n stel moets en moenies: “Moenie jou stiltetyd verwaarloos nie. Word deel van ’n gemeenskap van gelowiges. Wees getrou in jou kerkgang.” Agter hierdie praktiese raad lê egter die groot ononderhandelbare opdrag: “Hê God bo alles lief. Ken Hom in al jou weë.”

“Want,” sê Salomo, “dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ’n volle lewe vir hom wat dit besit.”

Wat vir die jongmense in die fleur van hul lewe geld, geld vir ons almal – tot in die gryse ouderdom. Die hoofsaak is: Soek jou wysheid by God.

Here, ek wil regdeur my lewe uit u poel van wysheid put. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed