Staan jou plek vol
Lees Galasiërs 1:1-5.
Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het (v 2).
Hoekom leef jy? Wel, seker omdat jou ouers jou wou hê! Ja, dit ook! Maar dit is nie die vernaamste rede nie. Jy leef omdat God dit so wou. Hy het besluit om jou jy te laat wees. Jy is nie ’n biologiese toevalligheid nie. As jy dalk biologie op skool gehad het, sal jy weet dat miljoene ander selle ook ’n gelyke kans gestaan het om te versmelt in jou moeder se skoot. En tog het God dit so gewil dat jy die resultaat was van daardie biologiese wonderwerk. Hy wou juis vir jou hê om ’n bepaalde plekkie hier op aarde vir Hom vol te staan. Jy moet vir ’n wyle die vlag van sy koninkryk op ’n paar plekke inplant.
Paulus was ook duidelik bewus van sy roeping. Hy het geweet dat God ’n baie spesiale werk vir hom opsy gesit het. Dit is nie mense wat hom aangestel het nie, maar God self. Hy het hom in genade aangesien en afgesonder om ’n apostel te wees. En Paulus het op sy beurt maar net gedoen waarvoor God hom geroep het. Kortom, hy was gehoorsaam aan sy roeping.
Jy moet sorg dat jy ook jou roeping vervul, wat dit ook al mag wees. As God jou roep om ’n onderwyser te wees, doen dit dan goed. As jy ’n huisvrou moet wees, laat jou gesin dan tuis wees rondom jou. As jy ’n sakeman moet wees, doen dan eerlik sake. Doen alles wat jy doen tot verheerliking van God. Hou sy Naam hoog in alles wat jy sê en doen. Dit is immers jou roeping.
Christus, leer my om vandag my plekkie vol te staan.
Stephan Joubert