Jesus het verder vir hulle gesê: “Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die Sabbat.” (Markus 2:27).
In ons teksgedeelte vandag raak Jesus dit kwyt dat die Sabbat vir die mens gemaak is – ja, ingestel vir óns heil en geluk.
En dit is wérklik so. Dit is asof God lankal geweet het dat ‘n mens onmoontlik sewe dae van ‘n week kan werk. Dat dit nodig is om, soos God self gedoen het, iewers asem te skep en tot rus te kom.
Daarom het God die Sabbat ingestel. Nie alleen dat ‘n mens kan afskakel van al die vermoeiende roetines en eise van werk nie, maar om tyd te kry om op dié dag ook doelbewus in stilte na God te keer. Om só voor God se aangesig vry te word van alles en almal wat liggaam en siel kan vermoei en belas, en eenvoudig te rus!
Ook om weer perspektief op en moed vir jou lewe en werk in die week te kry.
Hierdie perspektief behels onder andere dat ons lewe en ons arbeid nie net ter wille van onsself of ons eie belange sal geskied nie. Dit wil sê: Ons leef of werk nie net om geld te maak, posisies te beklee, invloed te bekom en so onsself te verhef nie.
Nee, ons leef om meer diensbaar aan ander te raak. Om deur ons werk, soos Christus, ander te help en by te staan, en só God te eer.
Daartoe moes die rus van die Sabbat die volk van God – en ook vir ons vandag – gedurig inspireer, motiveer en energie gee.
Here, ons dank U vandag vir die Sondag – ‘n dag waarop ons voor u aangesig tot rus kan kom en opnuut die doel van ons lewe en ons werk kan bedink. Amen
Carel Anthonissen