“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” – Matteus 5:3.
Die kinderboek The catawampus cat deur Jason Carter Eaton handel oor ’n kat wat skeef-skeef deur sy dorp se strate loop, met sy kop na die een kant gekantel. Die tema van dié eenvoudige verhaal is dat ons moet leer om anders na die wêreld rondom ons te kyk. Ons raak verstok en sien mense en omstandighede slegs uit ons beperkte oogpunt raak.
Tydens die erediens waarin die predikant hierdie storie aan die kleingoed vertel, vra hy die gemeente om na mekaar te draai en verby die bekende gesig na die voorkop van die persoon voor hom of haar te kyk en dié woorde daarop te sien: Fragile. Handle with care. Child of God.
Wanneer ons soos Christus kyk, sien ons iemand oorkant ons se breekbaarheid raak, en saam daarmee sy of haar diep afhanklikheid van God. Dít wat ons in ’n ander sien, is ook van onsself waar. Ons moet dus ons eie broosheid kan erken.
Ons is nie geseënd wanneer ons op ons eie geloof en krag staatmaak nie, maar juis wanneer ons ons broosheid erken en vir God kan sê: Ek kan niks uit my eie vermag nie. Ons moet hierdie seën na elkeen oorkant ons aangee. Op sy voorkop staan: Breekbaar. Hanteer versigtig. Kind van God.
Here, help my om met deernis na u breekbare kinders te kyk en te erken ek is ook breekbaar. Amen.