“As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê” – Job 5:8.
Elifas, een van Job se vriende, is aan die woord. Sy raad aan Job toon sy onbegrip. Job, as gelowige, afhanklike kind van God, is dag en nag met Hom in gesprek. Elifas se beterweterige woorde en houding troos geensins. Inteendeel, dit doen meer skade.
Christene maak hulle dikwels aan ’n geestelik meerderwaardige houding skuldig en sal maklik sê: “Los jou pakkie by die kruis en stap aan.” Of: “Jy het soveel ander dinge om voor dankbaar te wees.” Wanneer ’n trooster vooropgesette idees het van wat ’n treurende mág en nie mag doen nie, voel die persoon wat swaarkry skuldig en begin aan sy of haar Christenskap twyfel.
’n Ouer wie se kind gesterf het, vertel: “Mense sê soms vir my: ‘Sjoe, jy is darem sterk! God weet vir wie om hierdie pakkie te gee! Ék sal dit nie kan hanteer nie.’ Dan kry ek die gevoel hulle is eintlik verlig dat God reken hulle is nie sterk genoeg daarvoor nie en hulle dus eerder oorsien!”
Niemand is sterk nie. Niemand kan vanself aangaan nie. Niemand is onaangeroer deur lyding nie. Elkeen het sy eie manier om deur die smart te werk en ander kan nie vir die treurende besluit hoe hy voel, of wat die beste vir hom sal wees nie.
God gebruik stukkende mense om mekaar heel te maak. Ons is onkundig. Ons weet nie hoe om te troos óf te treur nie. Ons moet by mekaar leer.
Here, help ons om mekaar met erbarming te koester, of ons nou aan die ontvangkant of uitdeelkant van troos is. Amen.