Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen – Titus 2:14.
Rentmeesters is vrygemaak. Ons mag nie in skuld lewe nie. Ons is verlos. Daarom moet ons so lewe dat ons nie hoef te wroeg of onsself verwyt oor dinge wat ons anders moes gedoen het, of dinge wat ons nagelaat het nie.
Ons hoor so dikwels: “Ag, as ek nog net een keer …” En dan spreek iemand haar versugting uit om dít wat nagelaat is vir ’n geliefde wat nie meer daar is nie te kan doen of sê.
Kinders dra soms swaar aan ’n skuldlas oor hul ouers. “As ek maar net geweet het!” En dan vertel die kind van ’n ouer se pyn wat hy alleen moes dra. Of die kind verwyt hom oor te min aandag aan die ouer, of ongeduld met hul vergeetagtigheid of onbeholpenheid.
Dié versugting duik gereeld op: “Hoekom het ek nie vir my ouers gesê hoe ek hulle waardeer en liefhet nie? Ek besef nou eers wat hulle alles vir my opgeoffer het.”
Ouers dra op hul beurt swaar aan verwyt omdat hulle so besig was met die bou aan ’n eie beroep en eie belange dat hulle hul kinders verwaarloos het. ’n Bejaarde sê tereg: “Geld beteken niks as jy siek en alleen is nie. Verhoudings is al wat tel.”
Ons moet mekaar nóú liefhê en nóú na mekaar omsien sodat ons geen selfverwyte het wanneer die geleenthede uitloop nie.
Here, U maak my vry van skuld. Amen.