Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus – 1 Petrus 1:7b.
In Bybelse tye is gouderts gesuiwer deur dit in ’n klein smeltkroes te smelt. Daarna is die onsuiwerhede afgeskep wat bo gedryf het. Petrus sê dat ons geloof baie kosbaarder as goud is. Soos die suiwerheid van goud met vuur getoets word, moet die egtheid van ons geloof ook getoets word.
Hoewel goud omtrent alle druk kan weerstaan, is dit tog “soepel genoeg” dat een ons goud in ’n goudplaat van meer as vyf meter gerol kan word. Jesaja skryf van die goudsmid wat die metaal uitslaan en die plate aan mekaar smee.
In Psalm 45:14 – “Gedig van ’n koning” met die subhofie “’n Gedig. ’n Lied van die liefde” – skryf die psalmis: “In louter prag staan die koningin daar in haar kleed van goudbrokaat.” Die koningin se pragtige kleed is waarskynlik van die allerdunste goudplaat gemaak: uitgerol, in drade opgesny en kunstig ingeweef in die koninklike kledingstuk.
Hoe meer daar aan goud geklop en poleer word, hoe dieper word die glans waarmee dit gloei. Dit neem toe in kosbaarheid en skoonheid.
Wanneer ons soms pyn en swaarkry beleef, kan ons gerus dink aan God as ons Goudsmid besig om ons te suiwer en uit te klop om nie slegs bruikbaar te wees nie, maar ook as versiering op aarde te dien.
Here, toets my geloof en beklee my met u wysheid. Amen.