Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! – Psalm 133:1.
Dawid, wat dikwels alleen in die veld tussen sy skape moes eet en waarskynlik gesmag het om saam met sy broers rondom die familietafel te kon aansit, het die woorde hierbo geskryf.
Ek kan my indink hoe graag hy as die jongste seun na sy ouer broers se stories wou luister. Omdat hy dit ontbeer het, het hy besef hoe belangrik goeie verhoudings tussen broers is. Hy was altyd so effens uit die groep.
Toe hy gestuur word om kos vir sy broers na die slagveld te neem, was hy opgewonde om ’n stukkie van hul wêreld te kon meemaak. Sy teleurstelling moes dus groot gewees het toe sy broers saam met die res van die manskappe neerhalend na hom verwys.
Ons besef nie altyd die voorreg daarvan om deel van ’n intieme gesinskring te mag wees nie. Ons gesin is ons oefenskool, ons plek waar lewensvaardighede geslyp en dan aangegee word. Daarom moet ons ons kinders aanmoedig om die saamwees te koester en verhoudings op te pas.
Kinders wat in ’n huis grootword waar ouers mekaar respekteer, beleef die krag van die Bybelse sagte antwoord wat die woede laat bedaar. Hulle begin iets verstaan van die langtermynuitwerking wat vredemakers op verhoudings het.
In hierdie wêreld waar alles voortdurend verander, is dit ’n voorreg om iets te hê wat konstant is. ’n Gesinsmaaltyd met liefde en vrede as hoofgereg is een so ’n konstante.
Here, help my om te sorg dat liefde en vrede altyd deel van my gesin se saamwees sal wees. Amen.