Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd – Efesiërs 5:16.
Ouers se tyd om lewenswaardes by hul kinders in te skerp is kort. Die eerste sewe jaar van kinders se lewe is hul vormingstyd. Ons moet daardie tyd benut en hulle deur ons woorde en voorbeeld leer.
Toe my kinders ouer word, het ek ál meer aandag begin gee aan die blywende dinge vir hul pad vorentoe. Hulle het die huisreëls geken: Hou die badkamer netjies. Neem ’n skinkbord by ’n dame. Wees stiptelik. Gehoorsaam die padreëls.
Die alledaagse dingetjies is die uitvloeisel van groter lewensbeginsels. Vir eersgenoemde is geen wysheid nodig nie, wel gehoorsaamheid. Vir die belangrike lewensbeginsels benodig ons egter wysheid.
Een hiervan is: Maak die beste gebruik van die tyd wat jy het.
In die Nuwe Testament word twee woorde vir tyd gebruik. Die eerste woord, chronos, is die naam van die Griekse god van tyd, ’n wrede god wat alles verslind en selfs sy eie kinders opgeëet het. Ons ken vandag ook hierdie soort tyd wat alles meedoënloos verorber en niemand ontsien nie.
Die Nuwe Testament gebruik egter nog ’n woord vir tyd, naamlik kairos, wat beteken “regte tyd, beslissende tyd, geleentheid”. Wanneer Christus in Markus 1:15 sê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom,” bedoel Hy kairos, die beslissende, regte tyd. Die Gereformeerde teoloog dr L Floor skryf in die Gereformeerde Vroueblad: “Die tyd as chronos suig alles weg na die verlede, die tyd as kairos maak die pad na die toekoms oop. Dit is hierdie tyd wat ons help om wysheid te bekom.”
Here, help my om my dae so te gebruik dat ek wysheid bekom. Amen.