“Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” – 1 Samuel 16:7b.
’n Eerstejaarstudent vertel van sekere koshuisinwoners wat dwarsdeur die jaar by hom verbygeloop het sonder om hom raak te sien. Ná die eerste rugbywedstryd het hulle skielik van hom kennis geneem. ’n Drie en ’n vervyfskop het hul oë laat oopgaan en hom almal se held gemaak. En tog was hy steeds dieselfde mens as vóór die drie en vervyfskop.
Ek lees ’n koerantberig van ’n 13-jarige meisie wat met ’n ooggebrek gebore is en baie spot van skoolmaats moes verduur. Dit het haar vasbeslote gemaak om bo haar gestremdheid uit te styg. Sy het – klein soos sy was – besluit om eienaarskap van haar lewe te neem. Sy sou nie langer terugdeins vir opmerkings en afbrekende kommentaar of toelaat dat ander se optrede haar lot bepaal nie.
Sy het doelgerig begin studeer en aan die einde van haar laerskoolloopbaan feitlik al die bekers opgeraap. Dit was egter nie vir haar die belangrikste nie. Sy sê: “Nou het mense nie langer teen my gebrek vasgekyk nie. Ek hoop hulle sien my soos die Here my sien.”
Kinders én volwassenes kyk maklik teen die uiterlike vas. Dit is die minste moeite. Ons etiketteer en klassifiseer mense en sit hulle in boksies. Dan voel ons veilig, want ons weet waar óns ten opsigte van ander staan.
God wil hê ons moet uit ons gemaksone beweeg en regtig probeer agterkom wie die persoon oorkant ons is. Hy vra mededoë en sagtheid en deernis van ons.
Here, ek wil nie volgens die uiterlike oordeel nie. Amen.