As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie – Efesiërs 4:26-27.
Woede is ’n emosie wat in ’n mens opwel, soos liefde en hartseer. Ons lees ’n paar keer in die Bybel dat Jesus deur emosie oorval is. Hy het oor Jerusalem gehuil wat Hom as Messias verwerp het.
Jesus het ook kwaad geword. Toe die tempel ontheilig is deur verkopers wat hul ware daar verkoop het, was Hy woedend. Hy het ’n sweep van toutjies gevleg en hulle almal verjaag.
Toe Jesus ’n man met ’n gebreklike hand op die Sabbatdag genees, was dit vir die rigiede wetsgebonde Fariseërs die toppunt van Sabbatsontheiliging.
Jesus was kwaad en ontsteld oor die hardheid van hul harte. In Markus 3:5 lees ons: “Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid.”
Woede is soms geregverdig. Jesus het nie impulsief die tempeltafels omgekeer en almal verjaag nie. Hy het eers nagedink. En tóé die sweep van toutjies gevleg. God se eer was op die spel. Sy heilige ruimte is ontheilig. Hy het die oortreders verjaag; nie uit woede omdat Hý veronreg is of bloot op die ingewing van die oomblik nie. Sy optrede het uit ’n heilige woede gespruit.
Ons woede mag nie uitloop op onbeheerste uitbarstings nie. Die dryfveer vir ons optrede moet in ooreenstemming met ons liefde vir God en ons naaste wees, soos Jesus vir ons gewys het.
Here, leer ons om ons woede te beteuel en te onderskei watter dinge ons woede regverdig. Amen.