God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor” – Genesis 21:17.
Daar is geen waarborg dat ons ’n eenmalige woestyntyd in ons lewe sal ervaar nie. Ons het egter die waarborg dat God in elke woestyntyd by ons is.
Met die geboorte van Isak, Sara se seun, word Ismael, Hagar se seun, opnuut vir Sara ’n bedreiging. Sy vra Abraham om hulle weg te stuur en Hagar bevind haar weer in die woestyn waar sy rondswerf.
Dalk vergeet sy ’n oomblik van God se vorige belofte dat haar nageslag ’n groot nasie sal word. Dalk is sy – soos tevore – verslae en verneder. Dieselfde God wat haar egter die vorige keer raakgesien het, hoor en sien haar weer. Hy het nie van sy belofte vergeet nie: God was by die kind, daar waar Hagar hom onder ’n doringbos neergesit het. God se beloftes staan vas. Ook vir ons – wat deur ons eie woestyntye worstel – belowe Hy: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Dit maak nie saak hoe die lewe ons kasty en verwond nie, die God van ons kindertyd is ook die God van ons middeljare en die God van ons ouderdom. Hy is getrou op hierdie steeds veranderende pad waarop Hy ons gereeld beproef en leer wat ware wysheid beteken.
Here, ek is in u ewige sorg. Dankie dat U u beloftes aan my bevestig wanneer ek deur woestyntye gaan. Amen.