U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering – Psalm 139:13-14.
Een van die kosbaarste geskenke wat ons vir ons kinders kan saamgee, is selfaanvaarding. ’n Voorvereiste om dié geskenk te kan aangee, is dat ons onsself ook onvoorwaardelik sal aanvaar. Dit beteken dat ’n mens jouself in die oë kyk en nie slegs dit wat mooi en edel in jou is, sal toe-eien nie, maar ook dit wat minder mooi en moeilik is om te aanvaar.
Wanneer ek myself aanvaar, sal my kinders besef dat hulle óók nie volmaak hoef te wees voordat ek hulle aanvaar nie. Hulle moet weet dat hulle goed genoeg is vir my, al is hulle nie so vinnig of gewild nie, of al misluk hulle met iets wat hulle aanpak. Hulle moet nooit daaraan twyfel dat ek hulle aanvaar en liefhet nie; nie slegs deur my woorde nie, maar veral deur my optrede.
Aan die ander kant moet ouers daarteen waak om kinders te bewonder en as klein “prinsies” en “prinsessies” te beskou wat in hul oë net die beste en oulikste is. Dit gee kinders ’n vals selfbeeld. Die werklikheid is dat ons “prins” of “prinses” nie altyd eerste gaan kom nie. Hulle gaan foute maak. Hulle gaan ons teleurstel.
Kinders moet wéét dat ons ook hul misstappe raaksien en dit sal aanspreek, sonder dat ons liefde in die slag bly.
Here, help my om myself en my kinders onvoorwaardelik te aanvaar. Dankie dat U ons op ’n wonderbaarlike wyse geskep het. Amen.