Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie (Markus 13:33).
Die vernietiging van Jerusalem en sy tempel 70 jaar ná Christus deur die Romeinse aanvoerder, Titus, was ‘n tragiese en pynlike gebeure.
Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus, het meer as ‘n miljoen mense, meesal Jode, in die aanval omgekom, terwyl 97 000 gevang en tot slawe gemaak is. Vir die buitestaander, so vertel hy, het ‘n pragstad oornag tot ‘n woesteny verval – iets waaroor ‘n mens alleen kon huil.
In sy woorde: “The very view itself was a melancholy thing; for those places which were adorned with trees and pleasant gardens, were now become desolate country.”
Iets van die ontwrigting en trauma van dié gebeure, skyn ook deur in Jesus se voorspelling en beskrywing daarvan in Markus 13.
Markus skryf egter nie hierdie hoofstuk om sy lesers te verskrik nie, maar om hulle te troos, om hulle aan te moedig om waaksaam en getrou in die uitlewing van hulle geloof te wees. Vandaar sy oproep: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Mk 13:5). En dan: “Wees op julle hoede; wees waaksaam … (Mk 13:9,23,33). In die oorspronklike taal lui die oproep: “Kyk goed, wees helder van begrip, probeer verstaan.”
En tree dan met nugtere wysheid op.
In ‘n tyd van onrus en woelinge wat ons tans ook in Suid Afrika beleef – ‘n tyd waarin die ou orde uitgedaag word – is dit ‘n baie tydige vermaning.
Here, maak ons vandag meer behoedsaam. Gee ons daar insig en begrip wat ons met wysheid sal laat optree. Amen
Carel Anthonissen