“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” – Matteus 16:15.
Sommige mense verkies om nie oor hulleself te praat of ’n saak te verduidelik nie, juis omdat hulle rustig is oor wie hulle is.
By ’n begrafnisdiens vertel iemand hoe die oorledene ná die verwoestende Knysnabrande in 2017 mense en instansies van die klein Vrystaatse gemeenskap waarin hy gewoon het, opgeroep het om skenkings aan brandslagoffers te maak. Hy het meer as een keer sy bakkie propvol gelaai en afgery Knysna toe. Hy het egter geweier dat sy naam op die skenkerslys aangebring word.
Ná die diens het verskeie mense vertel hoe die oorledene hulle ook deur moeilike tye gehelp het, soms net deur by hulle te sit en hulle te ondersteun.
Dié besondere man het dit nie nodig geag om homself op te hemel nie. Sy lewe het getuig van ’n diepgewortelde verhouding met God. Omdat God sy vriend was, het ander Hom in sy lewe raakgesien.
Jesus vertel aan sy dissipels dat die mense sê Hy is Elia of Moses. Dan konfronteer Hy hulle met dié vraag: “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?” Petrus se antwoord was dat Hy Christus die Seun van die lewende God is.
Dít wat ons glo, moet duidelik uit ons lewe straal. Ons moet egter nie net met ons lewe en dade wys dat ons vriende van God is nie. Ons moet dit ook openlik bely. Ons woorde moet ons voorbeeld bevestig sodat ander nie sal wonder nie.
Saam met die vaste wete dat ek aan Christus behoort, is daar ’n verantwoordelikheid om my getuienis deur my voorbeeld en woorde uit te leef.
Here Jesus, ek wil van al u wonderdade vertel. Amen.