Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees – Psalm 51:8-9.
Twee van ons kinders bly in ’n ver koue land. Van waar hulle in hul woonstelletjie op die 20ste verdieping woon, kyk hulle af op deurmekaar agterplase, vuil stegies en rye grys en swart dakke met vuil skoorsteentjies. Ek hoor die verlange na ’n Kerstyd vol helder somerdae, met son en see en familie onder vrolike strandsambrele.
Dan begin dit oornag by hulle sneeu. Ek verkyk my aan die foto’s. Alles is wit-wit-wit so ver as wat die oog kan sien. Waar die breë bruin rivier die vorige dag gevloei het, is nou ’n wit kronkeling. Die agterplase is skoon en wit. Hier en daar verklap ’n sagte hobbel ’n vergete fiets of vuilgoeddrom.
Saam met die foto’s kom die boodskap: “Ek het besef dat ons baie keer van ‘bo’ af na mekaar kyk – met veroordelende oë. Ons sien die vuil en deurmekaar en stukkendheid in ander raak. Maar die Here kyk met liefde. Hy vou ons almal in sy wit kombers van liefde toe.”
Ons moet mekaar vergewe en met sy erbarming en genade na mekaar kyk. Ons is immers almal onder dieselfde sneeukombers toegemaak.
Here, dankie dat u liefde baie sondes bedek en dat U my gewas het sodat ek witter as sneeu kan wees. Amen.