
Lééf die woorde
En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak – Johannes 8:31-32 (1933/1953-vertaling).
As kinders moes ons elke Sondag ’n Bybelvers uit ons kop ken en by die Sondagskool voordra. Op skool moes ons ook gereeld sekere Skrifgedeeltes memoriseer. Vandag onthou ek die meeste van daardie teksverse nog. Soms spring die bekende woorde onverwags in my gedagtes. Dit voed en troos en gee hoop.
In sy boek On consolation vertel die Kanadese skrywer Michael Ignatieff van ’n verpleegster, Cicely Saunders, wat ná die Tweede Wêreldoorlog terminale pasiënte bygestaan het.
Een so ’n pasiënt, David Tasma, ’n Poolse Jood, vra haar op ’n keer of sy nie woorde het waarmee sy hom kan troos nie. In antwoord op sy versoek begin sy dele uit die psalms aan hom voordra.
Toe hy haar vra of sy nie nog trooswoorde vir hom kan gee nie, begin sy in haar handsak na haar Bybel soek, waarop hy sê: “Nee, ek wil die woorde hoor wat in jou hart en gedagtes is.”
Cicely Saunders het die woord haar eie gemaak. Dit was nie vir haar nodig om haar Bybel uit haar handsak te haal nie. Sy het die woorde gelééf. Daarom kon dit vir die sterwende man hoop en lewe bring.
Ek lees in die verbygaan: ’n Bybel wat uitmekaar val, behoort gewoonlik aan iemand wat heel is.
Ons moet die Woord van God lees en herlees totdat dit spreekwoordelik uitmekaar val. Dan word dit deel van ons sit en opstaan en gaan lê.
Here, ek wil u Woord lééf! Amen.