Nog ’n bietjie sluimer
’n Bietjie slaap, ’n bietjie insluimer, ’n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos ’n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos ’n skaamtelose man – Spreuke 24:33-34 (2020-vertaling).
Uitstel is een van Wysheid se grootste vyande. Nog ’n bietjie sluimer. Nog ’n bietjie slaap. Nog ’n bietjie op die selfoon rondspeel. Nog ’n bietjie blokraaisels invul. Nog ’n bietjie deur die televisiekanale blaai. Die Covid-pandemie het menselewens vir goed verander. Ons kan tuis werk sonder dat iemand kontroleer of ons wel werk, en nie speel of sluimer of slaap nie.
Wat het dit met wysheid te doen? Alles. Want om wys te word verg selfdissipline. Vir wysheid moet ons tyd máák, nie in die verbygaan gryp na iets wat daarna lyk nie. ’n Pittige WhatsApp-boodskap kan maklik met wysheid verwar word. Dikwels is dit vlietende woorde sonder diepte. Ware wysheid lê verskuil in stilte en om gehoorsaam tot rus te kom by God.
Frances J Roberts skryf in haar dagboek Come away my beloved: “Gryp die kans om alleen by God te vertoef, al moet jy jou werk onderbreek. Niks sal skade ly nie … Dinge is nie so belangrik as wat jy dink nie.”
Wanneer ons vroegdag, half deur die slaap, God se sagte fluistering ignoreer, maar eerder ons selfoon nader trek om te kyk watter boodskappe op ons skermpie lê en wag, verbeur ons die voorreg om deur sy wysheid gevoed te word. Dit is dalk nie wysheid vir die spesifieke dag nie. Dalk vir môre of volgende jaar. Feit bly, Hy wag om met ons te gesels.
Vader, ek onderbreek u wysheidstroom deur my eie ongeërgdheid en belangeloosheid. Ek is jammer. Amen.