Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eers weet nie, en boonop het ek nog die grootste
geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, dan is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak.
– 1 Korintiërs 13:2
Ons ontwikkel maklik heldeverering vir ’n begaafde geestelike persoon. Ons sit goeie predikers oornag op ’n voetstuk. Ons doen dit ook met Skrifverklaarders wat groot kennis van en insig in die Bybel het en dit vir ons kan uitlê. Ons kyk met groot verwondering op na
geloofstryders en geloofsgenesers.
Die Here gee egter vir ons ’n baie sterk mening oor hierdie begaafde mense in sy Woord. Hierdie geestelike leiers is vir die Here ’n nul op ’n kontak as hulle nie die vermoë het om ander mense lief te hê met ware omgeeliefde nie.
Weereens baie sterk woorde.
Sou jy sê jy het ander mense lief met Jesus se omgeeliefde? Stel jy opreg belang in ander se lief en leed? Het jy empatie en deernis met mense wat swaarkry? Vra jy mense uit oor hulle lewe en welstand?
Of skip jy liewer hierdie deel van jou verantwoordelikheid en preek net vir mense? Deel jy God se Woord makliker uit as sy liefde en omgee? Lê jy maklik die hande op iemand om hulle te genees, maar streel selde oor iemand se hand met ’n liefdevolle aanraking?
Om die evangelie uit te leef vra dat ons Jesus se omgeeliefde sal uitleef. Wanneer ons mense liefhet en opreg vir hulle omgee, vervul ons die wet. Dan is ons ’n liefde-bruistablet vir die Here.
Bruisgebed vir liefhê: Here, leer my om ander mense met u omgeeliefde te omvou en hulle te ondersteun op hulle pad deur die lewe. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
